Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 03 MEI 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za; klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (Naam en Roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 52,750, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

In die nuus vandag:

EERSTE RADIOTEGNOLOGIE-IN-AKSIESIMPOSIUM VOLGENDE NAWEEK IN GAUTENG

GEEN VERRASSINGS MET VERKIESING VAN SARL-RAADSLEDE NIE

UITSLAE VAN AJV-MOSIES

MARGINALE STYGING IN JAARLIKSE LEDEGELD

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

EERSTE RADIOTEGNOLOGIE-IN-AKSIESIMPOSIUM VOLGENDE NAWEEK IN GAUTENG

Die eerste van die 2009 radiotegnologie-in-aksiesimposiums sal in Gauteng by die SARL se Nasionale Amateurradiosentrum, Octave Road, Radiokop, plaasvind.
Die volle program is op die web www.sarl.org.za beskikbaar. Hier volg die hoogtepunte van die program:
 Amateurradio is nie jou oupa se radio nie. Hoe sal amateurradio in die toekoms lyk?
 Tyddomein reflektrometrie (TDR) en tyddomein transmissometrie (TDT).
 Stap-vir-stap ontwerp van ‘n laeruis 2 m versterker.
 HF-radiotegnologie in ruimtefisikanavorsing.
 Maak satelliete jou volgende stop in amateurradio.
 Praktiese toepassing van spreispektrumtegnologie insluitend die bou van ‘n DSSS-sendontvanger.
 Kortgolfluister — is dit ‘n vergete tydverdryf?
Die inskrywingsfooi is slegs R30 per persoon. Studente en leerders kry gratis toegang. Die inskrywingsfooi sluit deelname aan die bywoningstrekking in. Bring u vriende saam. Dit is die jaarlikse SARL-gebeurtenis wat nie misgeloop moet word nie. Vroeë oggendtee en koffie sal in die NARS-gebou beskikbaar wees. Die simposium self vind in Sentech se konferensiesentrumkompleks plaas.

GEEN VERRASSINGS MET VERKIESING VAN SARL-RAADSLEDE NIE

Aangesien slegs 12 persone vir die Raad genomineer is, het geen stemming plaasgevind nie. Die uittredende Raadslede is almal genomineer tesame met een nuwe Raadslid en nog een Raadslid is geko-opteer. Die Raadslede sal funksies as volg vir die jaar vervul:
President: ZS1YT, Rassie Erasmus; Vise-President: ZS4BS, Denis Green, Dennis is ook redakteur van Radio ZS en HF-bestuurder; Sekretaris: ZS1AAZ, Henry Chamberlain; Vergaderingekretaris: ZS5DL, Laurie Devereux; Regulasieaangeleenthede en Bemarking: ZS6AKV, Hans van de Groenendaal; RAE-bestuurder: ZS6YES, Mark Zank: Erewetsadviseur en Kantoorbestuurder: ZS6LME, Louw Erasmus; HAMNET, QSL-bestuurder en Kantoorlogistiek: ZS6BUU, Francois Botha; Lidmaatskapontwikkeling en Klubskakeling: ZS2ILN, Ivan Newman; IARUMS: ZS4SM, Malcolm Kriel; en Elmer: ZS1FCS, Fred Scheepers. ZS3TG, Gerard Coetzee, wat vir die eerste keer in die Raad dien, behartig die portfolio: Opleiding, Jeuggebeurtenisse en STARS. John Willescroft, ZS6EF, is geko-opteer tydens die eerste Raadsvergadering wat direk na afloop van die AJV plaasgevind het en hy vul die portfolio van Tegnologiese Ontwikkeling.

UITSLAE VAN AJV-MOSIES

Mosie 1, wat gevra het vir uitbreiding aan die wedersydse lisensie-ooreenkomste met meer lande, is aanvaar. Gedurende bespreking is dit ooreengekom dat alle SAOG-lande in die voorstel, wat aan OKOSA gerig sal word, ingesluit word. Dit is uitgewys dat alhoewel die SARL die proses sonder verwyl aan die gang sal sit, die werklike prosedures lank sal neem en dat die Departement van Buitelandse Sake daarby betrokke sal wees.
Mosie 2 wat gevra het dat die SARL ‘n nouer betrokkenheid met klubs moet ontwikkel, is aanvaar met slegs 10 stemme daarteen. Terwyl die mosie in prinsiep gesond is, het die voorsteller en sekondant nagelaat om enige voorstelle oor hoe dit bereik moet word, ter tafel te lê. Dit is ooreengekom dat ‘n Presidentsnet hieroor gehou sal word en dat voorstelle van individue en klubs uitgenooi word oor hoe om dit te bereik.
Mosie 3, wat voorgestel het dat nie-SARL-lede ook toegelaat word om HAMNET-lede te word, is sorgvuldig oorweeg. Die ereregsadviseur het gereël dat die mosie ultra vires is. Die mosie is vervolgens na die voorsteller en sekondant terugverwys vir moontlike herbewoording en voorlegging aan die 2010 AJV.

MARGINALE STYGING IN JAARLIKSE LEDEGELD

Die ledegeld vir ‘n volle lid vir die 2009/2010 finansiële jaar bedra R340. Indien ledegeld voor 31 Augustus betaal word, geld ‘n afslag van R20 en lede betaal dus slegs R320.
Die ledegeld vir seniorlede is R212, met ‘n afslag van R12 vir betaling voor 31 Augustus, dus is ledegeld slegs R200.
Ledegeldrekenings sal voor die einde van Mei uitgestuur word. Teen die einde van hierdie naweek sal die webwerf met die besonderhede van alle fooie opgedateer word.

SLUIT NOU AAN EN VERKRY TWEE MAANDE GRATIS LIDMAATSKAP

Nie-lede word uitgenooi om nou aan te sluit, u betaal die afslagfooi van R320 en u verkry gratis lidmaatskap vir Mei en Junie Vir seniors is die fooi R200. Bel Maandag die SARL-kantoor om van hierdie spesiale aanbieding gebruik te maak. Mariska se telefoonnommer is 011 675 2393.

RAE-KANDIDATE: VERKRY DIE BESONDERHEDE

Die eksamennommers vir die radioamateureksamens is nou op die webwerf met die volgende adres beskikbaar:
http://www.sarl.org.za/public/licences/rae_exam_numbers.asp. (Lesers lees as sarl.org.za vorentoe skuinsstreep public vorentoe skuinsstreep licences vorentoe skuinsstreep rae onderstreping numbers onderstreping exam vorentoe skuinsstreep numbers.asp. Die spasies in die getikte adres hierbo is onderstreep ).
Indien u nie die adres kan onthou nie, gaan na www.sarl.org.za, klik op licensing, kies dan Radio Amateur’s Examinations en klik op exam numbers.

NOG ‘N DAG VIR KONSTRUKSIEKOMPETISIE-INSKRYWINGS

Inskrywings vir die SA Amateurradio-ontwikkelingstrust se kondtruksiekompetisie sal nog tot Maandag 4 Mei, dit is more aanvaar word.

KLUBNUUS

Die Sandton ARK hou hulle volgende klub se tegniese vergadering om 19:00 op 26 Mei by die NARS. Die gasspreker sal Mike Brink, ZS6MEG, wees wat sy projek oor amateurmeters sal bekendstel. Dit beloof om ‘n baie interessante aand te wees en Mike se aanbieding sal goed ontvang word. Die byeenkoms is oop vir almal wat belangstel. Die klub versoek dat almal wat dit wil bywoon vir Mark Zank, ZS6YES, dmv. SMS na 083 367 8943 of e-pos na zs6yes@gmail.com sal laat weet met insluiting van die besoeker se naam en hoeveel gaste saamkom. RF en koeldrank sal vir ‘n klein donasie beskikbaar wees.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen kalm wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Tans is daar slegs 'n enkele fisiese sonvlek op die oppervlakte van die son. Die eensame sonvlek behoort aan die vorige sonsiklus 23. Ons beleef inderdaad 'n diep minimumaktiwiteitsvlak. Die son se onvermoë om nuwe sonvlekke te produseer het 'n negatiewe uitwerking op sommige frekwensievoorspellingspakkette wat van data van bestaande sonvlektellings gebruik maak en natuurlik ook op ons HF-kommunikasie! Die frekwensievoorspellingspakkette neig om gunstige voorspellings te bied, en moet met omsigtigheid beskou word.
Die hoeveelheid energie van die son wat die Suidelike ionsofeer bereik is besig om af te neem met die seisoensverandering wat om die draai is. Dit het alreeds 'n merkbare effek op die HF-toestande. 15, 17 en 20-m is nog steeds die beste keuse vir DX. Gedurende die middae gaan die toestande na die Ooste en die Weste goed wees.
Gedurende laatmiddag en die aand gaan toestande na die Noorde goed wees. Noordoostelike, Noordwestelike, Suidoostelike en Suidwestelike paaie gaan uitdagend wees.
10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.
Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer. Met die winter op pad maak 20 m reg om te gaan sluimer, alhoewel goeie resultate nog tot middagete verkry kan word.
Saans is 80 m die beste keuse. Ongelukkig is die geraasvlakke agv. statiese ontladings nog bietjie hoog wat uitdagings bied.
Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF u aangenaam kan verras. Skakel u stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat u deel van die opwinding is.
Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir verdere inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

3 Mei - ZS3 Naelloop;
4 Mei – Laaste dag vir aanvaarding van inskrywings vir die SA
Amateurradio-ontwikkelingstrust se kondtruksiekompetisie;
9 Mei - RTA by die NARS;
15 Mei - Sluitingsdatum vir die SAROT-toekenningsnominasies;
26 Mei – Sandtonklub se tegniese vergadering by die NARS.

SARL-nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n 'Podcast'-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS4NE, opgestel is.

Dankie dat u geluister het. 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003